
Louwtjies baan die weg met innoverende graad 4-klas
Nie alle kinders leer dieselfde nie en met die ontwikkeling van die Sentrum vir Kurrikulum Integrasie (SKI), doen die Laerskool Louw Geldenhuys baanbrekerswerk om leergeleenthede te verruim.
Jou graad 3-kind is besonders. ’n Innoverende, kreatiewe dromer met ’n unieke lewensuitkyk. Maar hy of sy is moontlik ook angstig, of sensories-sensitief, en die vooruitsig van klasse-wissel in graad 4, of die blote gedagte dat daar na elke periode seker gemaak moet word dat alle boeke en skryfbehoeftes nog in hul tas is, laat jou spruit (en vir jou) baie senuagtig voel.
Vir kinders soos dié loods die Laerskool Louw Geldenhuys (LLG) in Januarie ’n unieke graad 4-klas onder die vaandel van die Sentrum vir Kurrikulum Integrasie (SKI).
Die klas, wat slegs sowat vyftien kinders sal akkommodeer, is gemik op leerders wat sal kán floreer in ’n tipiese klas-opset, maar wat eers nog so ’n paar belangrike vaardighede moet ontwikkel om met groter gemak in te skakel. Dit is kinders met ’n gemiddelde tot hoë IK wat terselfdertyd uitdagings het soos sensoriese-disregulasie en angstigheid.
Volgens Erika Basson, ’n opvoedkundige sielkundige en hoof van die skool se terapiesentrum, Die Habitat, sal aansoeke vir toelating tot die klas oorweeg word op grond van elke kind se unieke profiel. Assesserings deur opvoedkundige sielkundiges en arbeidsterapeute is ’n onmisbare skakel in die proses en ’n paneel sal die finale keuringsproses hanteer.
Waarom in graad 4?
Waarom met só ’n klas afskop in graad 4 en nie reeds in die juniorfase nie? “Daar is reeds prosesse in plek van graad R tot 3 om leerders gereed te maak vir formele onderrig,” sê die skoolhoof, Martin Bensch.
Die Kweekhuis-projek, ’n gratis naskoolse klas waar ’n onderwyser kinders help om sekere akademiese vaardighede in te skerp, is een daarvan.
Erika voeg by: “Dit is ook makliker om in die grondslagfase-klaskamer sekere hulpmiddels in te bring vir individuele kinders, omdat hulle nie wissel nie en die hele jaar in dieselfde klas bly saam met dieselfde juffrou.”
Nog ’n rede waarom die SKI-klas van graad 4 af in werking tree, is omdat daar dikwels kinders is wat verlore voel met die oorgang van graad 3 tot 4, sê Tina Calitz, hoof van die seniorfase en Berti de Villiers, nog ’n ervare onderwyser by LLG.
“Ongelukkig skep ouers en kinders onrealistiese verwagtinge oor graad 4, veral aangesien leerders moet begin eksamen skryf. Die werkspoed versnel en angs skop in wanneer ’n kind nie alles kan inneem nie.
“Boonop het onderwysers doodgewoon nie die kapasiteit om kinders met unieke leerbehoeftes genoeg te help nie, al wil hulle ook hoe graag.”
Die gevolg is dat leer ondoeltreffend raak en skool vir kinders sleg raak, sê Charlene Cruickshank, ’n arbeidsterapeut by die skool en een van die paneellede van die SKI.
“Selfvertroue lei dan maklik skade,” voeg Erika by. “Sulke kinders begin dink hulle is dom; dat hulle nie kan nie. Dit is wanneer ons in die moeilikheid beland, want baie kinders gee op. Hulle begin voel ‘wat’s die punt?’ en gedragsprobleme steek soms kop uit. As ons net daardie angs kan wegvat om die leerproses vir hulle beter en lekkerder te maak, sal skool vir hulle meer sinvol wees.”
Basta met boksies
Martin droom al lank van ’n klas wat ’n soort vangnet vir sulke kinders kan wees.
Hy en ’n span deskundiges, wat opvoedkundige sielkundiges, ’n arbeidsterapeut en onderwysers insluit, sit daarom al sedert die begin van die jaar koppe bymekaar om dié droom ’n werklikheid te maak.
“Die groot dryfveer om die SKI-klas te begin was om tred te hou met die behoefte wat ons in die gemeenskap raakgesien het,” sê Martin. “Ons weet al lankal ’n one size fits all-benadering werk nie. In plaas daarvan om die ‘boksie’ klein te hou, verruim ons die opvoedkundige moontlikhede deur hierdie klas op die been te bring.
“Ons wil die geleentheid in skooltyd skep om uitdagings aan te spreek, sodat ’n kind oor ’n jaar of twee gemaklik sal wees om homself in ’n tipiese klas-opset te handhaaf.”
Erika voeg by: “Kinders is van nature gretig om nuwe dinge en vaardighede te leer, maar hulle verloor daardie gretigheid wanneer hulle gedwing word om in ’n spesifieke boks te pas terwyl hulle nie eintlik gemaak is vir daardie boks nie.”
’n Nommerpas-klas
Een van die maniere waarop die SKI-klas van ’n gewone graad 4-klas sal verskil, is die feit dat leerders nie sal wissel van klaskamer tot klaskamer nie.
’n Toegewyde, ervare onderwyser sal al die graad 4-vakke aanbied en kinders se unieke aanslag tot leer en individuele uitdagings, soos aandagspan, leesvermoë en sensoriese-sensitiwiteit, in ag neem.
Hoewel onderwysers by LLG in die algemeen sensitief is vir leer-uitdagings, sê Tina en Bertie daar is dikwels nie tyd om genoegsame individuele aandag te gee wanneer leerders ekstra inskerping benodig nie. Die SKI-klas sal hierdie probleem uit die weg ruim. Boonop sal die onderwyser geleenthede kan skep vir bykomende, verrykende leergeleenthede vir leerders wat akademiese werk vinnig baasraak en maklik verveeld raak in die klas.
“Die idee in hierdie klaskamer is die buigbaarheid om by elke leerder se individuele leerstyl te kan aanpas,” sê Erika. “Ons wil juis ook ’n ruimte skep vir leerders wat vinnig deur hulle werk vorder en dus verveeld raak om dan aan te gaan en ekstra verryking te kan doen.”
’n Klaskamer in ’n rustige deel van die skool, waar daar nie te veel afleiding sal wees nie, is gekies om die SKI-klas te huisves en volgens Martin sal die klaskamer toegerus word met gespesialiseerde hulpmiddels. Dit sluit stoele in waarop kriewelkouse gemaklik en stewig kan sit, terwyl hulle (indien nodig) met ’n rekband onder-aan hul stoel kan speel.
Tegnologiese hulpmiddels soos tablet-rekenaars en ’n spesiale skerm sal aangewend word om die leerervaring te verruim. “Dit is steeds baie belangrik vir kinders om met die hand te skryf, omdat dit die enigste manier is waarop belangrike breinverbindings vorm,” sê Charlene.
Deur kinders egter ook reeds op laerskool te leer om met gemak op ’n sleutelbord te tik, sal hulle bemagtig word vir die toekoms.
Kinders sal ook oorfone mag gebruik in die klas indien hulle aandag maklik afgelei word deur klanke binne en buite die klaskamer, of maats wat klets.
Die hele skool sal vanaf 2025 gebruik maak van Purple Mash, 'n opvoedkundige aanlynplatform wat veral op kinders in die laerskool- en vroeë sekondêre fase gemik is.
Volgens Tammy Ferreira, graad 4-hoof, bied die program ’n wye verskeidenheid interaktiewe gereedskap, speletjies en aktiwiteite wat alle vakke dek: “Die platform sluit aktiwiteite in om projekte te skep, soos teken, animasie en kodering, lees programme, en bied ook hulpbronne vir onderwysers om studente se vordering te volg. Dit is ontwerp om leer pret en betrokke te maak deur middel van praktiese, interaktiewe benadering.”
Leer gaan oor meer as presteer
Hoewel die SKI-klas leerders meer sagkens aan die verwagtinge van die seniorfase van laerskool bekendstel en die onderwyser vir leerders ’n veilige hawe sal skep, sal hulle in geen opsig ontneem word van die gewone skoolervaring nie. Erika beklemtoon dat pouses, saalperiodes en buitemuurs soos normaalweg sal voortgaan en dat kinders in alle opsigte deel bly van die groter skoolgemeenskap.
Martin lê ook daarop klem dat die kurrikulum-inhoud presies dieselfde sal wees as vir die res van die graad 4-groep. Leerders se toetse en eksamens sal boonop ooreenstem.
’n Belangrike klemverskuiwing is egter dat die fokus nie soseer op tradisionele akademiese prestasie moet wees nie, maar eerder op leerders se individuele groei en die vermoë om vaardighede te bemeester.
Martin herinner ouers daaraan dat skool oor veel meer as akademiese-prestasies gaan: “Jou kind se laerskooljare is ’n vaardigheidsontwikkelingsfase. Dit gaan nie net oor punte nie, hoewel akademiese-punte natuurlik ’n storie kan vertel.
“Dit is ’n tyd waarin kinders met belangrike vaardighede toegerus word vir die hoërskool en later vir die grootmenslewe.”
Van die vaardighede wat kinders sal aanleer, sluit volgens Erika tydsbeplanning, selfstandigheid, selfdissipline, selfvertroue en sosiale vaardighede in.
Sy beaam dat skool om veel meer as akademiese-sukses behoort te wentel:
“Ja, dit is belangrik dat kinders moet leer en akademiese-vaardighede moet bemeester, maar dit is net so belangrik dat ons hulle moet toelaat om emosioneel en sosiaal te groei op laerskool.
“Dit is uiters belangrik vir laerskool leerders om sosiale vaardighede aan te leer. Die leer van hierdie vaardighede gebeur nie slegs in die klaskamer nie, maar tydens pouses en buitemuurse aktiwiteite ook. Dit is vir kinders goed om deel te voel van ’n groter sisteem.”
“Soms moet ons ons kinders ook die geleentheid gee om die ongemak van die lewe te ervaar en te leer en groei deur hierdie ervarings. So leer kinders selfvertroue, binne ’n veilige omgewing.”
Charlene beaam dat hoewel die SKI-klas dus ’n veilige omgewing sal skep vir kinders, dit hulle terselfdertyd veerkragtigheid sal leer. Die groot verskil sal wees dat daar meer ruimte sal wees om die manier waarop die kurrikulum oorgedra word, aan te pas na gelang van leerders se behoeftes.
“Die doel van die klas is nie om al die struikelblokke uit ’n kind se pad te haal nie, maar eerder om hulle die gereedskap te gee om uitdagings te hanteer,” sê Martin.
Klein begin, groot gewin
Die SKI skop met een graad 4-klas af en die skool sal ’n graad 5-klas oorweeg indien daar genoeg belangstelling is.
“Daar sal jaarliks ’n klas bygevoeg word tot hierdie leerders in graad 6 kom. Maar ons voel sterk daaroor dat almal teen graad 7 moet kan aansluit by die res van hul graadgroep, sodat hulle kan aanpas by klasse-wissel en groter klasse, soos daar in die hoërskool van hulle sal verwag word,” sê hy.
Leerders sal vir ’n volle jaar in die SKI-klas moet bly en daar sal aan die einde van elke akademiese jaar deur ’n paneel besluit word of hy of sy gereed is om by die hoofstroom te integreer.
Deel van die skoollewe
Martin stel ouers gerus wat bekommerd is oor die moontlikheid dat hul kind uitgesonder, of gespot sal word omdat hy of sy in die SKI-klas gaan wees.
“Ons gaan van die begin af nie van die klas as die SKI-klas praat nie, maar bloot van graad 4.1,” sê hy. “Dit is vir ons belangrik om die klas nie so te posisioneer dat daar enige stigma daaraan klou nie. Dit moet, om die waarheid te sê, so ’n lekker omgewing wees, dat al die kinders eintlik in daardie klas wil wees.”
Erika beaam dat daar nooit na die klas as ’n “hulpklas” verwys moet word nie en sê dit sal grootliks van die volwassenes in die skoolgemeenskap afhang: “Dit is belangrik dat ons, as grootmense, die motivering agter die klas reg bewoord en verduidelik,” sê sy. “Ouers is ook dikwels bekommerd oor of kinders gespot gaan word oor eksamen-akkommodasies, maar kinders is eintlik baie oop en toeganklik daarvoor.”
Charlene beaam dat LLG dit met groot sukses reggekry het om terapie, hetsy spel-, spraak- of arbeidsterapie, te normaliseer.
“Daar is geen stigmas daaraan dat kinders in skooltyd terapie kry nie. Om die waarheid te sê, die kinders wat nié terapie kry nie, wil dikwels weet wanneer dit hulle beurt is.”
Volgens Lilian Jacobs, ’n graad 1-onderwyser en hoof van die Kweekhuisprojek, sluit hierdie aanslag by die skool se waardesisteem aan.
“Ons leer leerders om oop te wees vir verskille, in watter vorm ook al. Louwtjies weet hoe belangrik dit is om in iemand anders se skoene te staan,” sê sy.
“Dit sal wonderlik wees as ons die hele Louwtjie gemeenskap, oud en jonk, kan leer dat ons elkeen anders leer en dat dit nie gaan oor reg of verkeerd nie maar oor uniek. So bevorder ons dan verder die hele skool se emosionele intelligensie sommer ook,” voeg Erika by.
Kliek gerus op die skakel om die potgooi te luister en meer uit te vind oor die Sentrum vir Kurrikulum Integrasie. Kliek op hierdie skakel om aansoek te doen. Klop gerus by Erika Basson aan of maak 'n afspraak met die hoof vir meer inligting.
Saamgestel deur: Riette van der Wat
Desember 10, 2024
Leave A Comment