Ons 120 jaar feesgees was so groot dat ons dit nie net in een dag kon vier nie en het daarom ‘n week se feesvieringe beplan vir hierdie massiewe mylpaal. Onderwysers, ouers en leerders was almal betrokke om hierdie die grootste verjaarfees ooit te maak. Dankie aan almal vir hulle harde werk om dit ‘n moontlikheid te kon maak!
Want ek’s ‘n Louwtjie
Ons fees het met ‘n groot “bang” afgeskop op 19 September met ‘n aandkonsert by die skool. Afrikaanse sanger Jak de Priester het almal met ‘n heerlike konsert vermaak en aan die einde van die aand het hy die spesiale liedjie wat hy vir ons geskryf het bekend gestel en dit saam met ons pragtige koor gesing.
Ons is so trots op ons liedjie dat ons graag daarmee wil spog.
Ons Liedjie…
Vroeg elke oggend, groet ek my ma.
Kaalvoet geklee, daar is niks wat my pla (nie)
Vriende se stemme wat my hart kan verstaan
Hoor ek in die gange, in die stad se lawaai!
Maar hiér vind ek vrede, hiér vind ek troos
Hiér vind ek alles, selfs ‘n Valentynsroos.
Hiér leer ek liefhê – hiér leer ek glo . . .
Hier leer ek opkyk na die liefde van Bo!
KOOR
Want ek’s ‘n Louwtjie, trots sing ek saam
Ek’s ‘n Louwtjie, hoog sal ek staan
Ek’s ‘n Louwtjie, hard sal ek speel . . . net vir jou.
Want ek’s ‘n Louwtjie, trots sing ek saam
Ek’s ‘n Louwtjie, hoog sal ek staan
Ek’s ‘n Louwtjie, hard sal ek speel . . . net vir jou.
Eendag as ek groot is, sal ek onthou,
My dae as ‘n Louwtjie, karakter gebou.
Kennis oor die lewe, kennis oor ons land
op die sportveld geval, in die moeilikheid beland.
Maar hiér vind ek alles, hier vind ek jou
Hiér vind ek kennis in die hemel se blou.
Hiér los ek spore en as ek sou val
Sal ek weer opstaan en verder aangaan!
KOOR
Verjaarsdagkoek
‘n Mens kan sekerlik nie verjaarsdag vier sonder koek nie! Op 20 September het almal verjaarsdagkoek gekry. Die pragtige kolwyntjies was versier in ons skool se kleure en uitgepak in die vorm van 120, terwyl die leerders wat op die veld gesit het die afkorting ‘LLG’ (Laerskool Louw Geldenhuys) uitgespel het.
Alumni Louwtjies
Die 21ste September was spesiaal vir ons oud-leerders. Dit was ‘n wonderlike oggend vir al die ‘oud-Louwtjies’ om by hierdie ‘geheue-laan’ af te gaan en al hulle kosbare oomblikke van die skool te kon herroep en geniet. Ons gassprekers was die legendariese akteur Heinrich Marnitz, aktrise Rika Sennett en die sanger André Schwartz. Hulle het hul gunsteling herinneringe, asook die besondere rol wat Louwtjies gespeel het om hul lewens te vorm, met almal gedeel.
Die Geldenhuys familie
Ons het ook die voorreg gehad om ons patriarg, Louwrens Geldenhuys, te eer vir sy bydrae om hierdie skool tot stand te bring 120 jaar terug. Sy agterkleindogter, Leanne Nell, het uittreksels uit ‘n familieboek wat Geldenhuys bymekaar gesit het, gelees. Die Geldenhuys-familie bewaar die boek tot nou toe – ‘n wonderlike eerbetuiging vir die man na wie ons skool vernoem is.
Golf Dag & Boeresport
Donderdag die 22ste September, het ouers en ondersteuners die groen setperke by Dainfern Golf Course aangedurf. Terselfdertyd het die leerders by die skool deelgeneem aan heerlike boeresport aktiwiteite. Almal het ‘n dag van superpret gehad met speletjies en heerlike eetgoed.
Vrydag het die leerders ‘n “silent disco” en fliekaand by die skool bygewoon.
Die laaste dag
Die laaste dag van feesvieringe het afgeskop met die Lindenloop. Leerders en ondersteuners het vroeg by die skool bymekaargekom en met trots deur die strate van die Linden-gemeenskap geloop, waarvan hulle al 120 jaar deel is.
Later die dag, het die ouers ‘n potjiekos kompetisie gehou en 88 potte het vir die groot prys meegeding. Die leerders het hulle eie unieke vermaak gehad met die “Louwtjies-got-talent” en “Look-a-like” kompetisies.
So het ons groot fees tot ‘n einde gekom: Baie pret en onskatbare herinneringe wat ons verewig sal koester. En bo dit alles die gees van Louwtjie-wees!
Leave A Comment