Louwtjie-wenke Reeks 1

Sal my nie-Afrikaanssprekende kind by Louwtjies kan skoolgaan?

Die Laerskool Louw Geldenhuys is ʼn geliefde Afrikaanse skool in Linden. Al hoe meer ouers wat nie Afrikaans as eerste taal praat nie, kies deesdae om hul kinders hier te laat skoolgaan.

In dié reeks artikels gee ons praktiese raad oor wanneer om die oorgang na ʼn alternatiewe onderrigtaal te maak; bespreek ons ʼn paar van die uitdagings as kinders in ʼn ander taal as hul moedertaal skoolgaan; deel ʼn multidissiplinêre span kundiges wat by die skool werk hul raad en vertel ʼn onderwyser van Louwtjies hoe kinders wat tuis ʼn ander taal praat, prakties in die klaskamer gehelp word om te floreer.

#3 Uitdagings? Louwtjies maak saam met ouers planne

Daar is ʼn paar moontlike uitdagings wat spraakterapeute soos Suzette Lamprecht van die Laerskool Louw Geldenhuys se Habitat-terapiesentrum in praktyk teëkom as kinders eers in graad R of graad 1 aan ʼn nuwe onderrigtaal blootstel word.

Akademiese uitdagings

  • Kinders sukkel om instruksies in die klas te volg, omdat hulle nie heeltemal verstaan wat ʼn onderwyser verwag nie.

  • Beperkte taalbegrip en woordeskat kan dit moeilik maak vir ʼn kind om nuwe konsepte te verstaan en toe te pas.
  • ʼn Kind kan sukkel om met die onderwyser te kommunikeer of deel te neem aan klasbesprekings.
  • Indien die grondslag van alfabetklanke in ʼn ander taal is, mag dit tyd neem vir die kind om die klanke in die nuwe taal onder die knie te kry.

Sosiale uitdagings

“Sommige kinders wat in graad R of graad 1 eers aan ʼn nuwe taal blootgestel word by die skool, kan moontlik sukkel om sosiaal in te skakel, of om maats te maak, omdat die meeste kinders op daardie ouderdom reeds vlot kan kommunikeer.

“Dit sal egter baie verbeter soos die kind stelselmatig meertalig word en in baie gevalle is kinders so aanpasbaar, dat hulle van die begin af maklik sal inskakel. Daar is ook die moontlikheid dat daar meer as een kind vir wie die taal nuut is – dié kinders is geneig om aan die begin met mekaar te speel.”

Lamprecht sê ʼn mens moet ook in ag neem dat sommige kinders sterker is met die aanleer van tale. Ander kinders het dalk reeds ʼn agterstand met hul moedertaal, wat dit kan bemoeilik om ʼn tweede taal aan te leer. In sommige gevalle sal ʼn kind wie se akademiese taalvermoë nie in lyn is met die res van die jaargroep nie, vir ʼn jaar teruggehou word, om te verseker dat konsepte vasgelê word.

Die uitdagings van skoolgaan in ʼn ander taal as jul huistaal, beteken nie ouers word afgeraai om die skuif te maak om hul kind in ʼn ander taal te laat onderrig nie, sê Lamprecht. Wees egter oopkop daaroor, sodat jy saam met die onderwysers en terapeute by die skool kan verseker dat jou kind by ʼn Afrikaanse skool soos Louwtjies floreer.

Ouers en onderwysers moet ʼn oop gesprek hê oor ʼn kind se vordering, sê sy.

“Dit gebeur soms dat ouers of onderwysers na een kwartaal bekommerd raak as die kind nie die nuwe taal onder die knie het nie. Dit is belangrik om dié kinders te monitor, sodat hulle die nodige ondersteuning kan kry. Maar gee die kind ook die ruimte om deur die oorgangsfase van tweetaligheid te beweeg.

“Met al hoe meer kinders wat ingeskryf word en ʼn ander huistaal as Afrikaans praat, is die onderwysers by Louwtjies al uitstekend daarmee om vinnig op te tel as ʼn kind ʼn bietjie langer vat om die taal vas te lê, of indien hulle sukkel met sinskonstruksie en grammatika van ʼn nuwe taal. Hulle verwys kinders, waar nodig, vir spraakterapie.”

Berei jou kind reg voor

Buiten die uitdagings hierbo, kan die aanpassing in ʼn nuwe taalomgewing emosionele implikasies hê op ʼn kind se leerervaring hê. Hoe kan ek my kind help nie geïsoleer of eenkant te voel wanneer hulle as nie-Afrikaanssprekende leerders by Louwtjies begin skoolgaan? Erika Basson, ʼn opvoedkundige sielkundige by Habitat, stel voor jy praat met jou kind oor dinge wat haar dalk bang maak, of waaroor sy onseker is.

“As ouer moet jy ʼn sterk band met jou kind hê, sodat jy vroeër, eerder as later sal sien jou kind kry swaar by die skool.

“Deur jou kind se komplekse emosies te verwoord, help jy om dit vir haar te normaliseer,” sê sy.

Deel ook met jou kind voorbeelde van toe jy as volwassene bang, onseker of hartseer was. Jy kan selfs voorbeelde gee van hoe die aanleer van ʼn ander taal jou benoud gemaak het, of bemagtig het.

“Die onderwyser speel ʼn reuse-rol hier en dit is altyd goed om in te loer oor jou kind se vordering. Indien daar enige bekommernisse is, kan julle saam besluit of spelterapie die regte intervensie is of nie.

“Dit is altyd voordelig om ʼn multidissiplinêre span te hê wat saam met die ouers en onderwysers kan besluit wat die regte ondersteuning vir die betrokke leerder en sy of haar unieke omstandighede is.”

Maak vooraf planne

“Dit is belangrik dat ouers besluit hoe hulle die proses gaan benader om hul kind in ʼn Afrikaanse skool te sit,” sê Basson. “Dit is belangrik om te oorweeg om jou kind vroeër, eerder as later, na ʼn Afrikaanse skool te stuur, omdat die kind se grondslag in Afrikaans versterk sal word. Dit is anders om skool te gaan in Afrikaans as wat dit is om bal te skop met ʼn Afrikaanse maatjie in die park. Die akademiese taal is anders.

Sy raai ook aan dat ouers vooraf reeds besluit hoe iets soos huiswerk aangepak sal word.

“Dit is baie belangrik dat die huiswerk tuis in Afrikaans verduidelik en gedoen word. Ouers kan ook oorweeg dat een ouer slegs Afrikaans praat met die kind, om sodoende jou kind se Afrikaanse woordeskat uit te brei.”

Dit kan ook help om jou kind aan Afrikaanse televisie- en radioprogramme en ander luistermateriaal in Afrikaans bloot te stel.

In die klaskamer en op die speelgrond

Juffrou Emelia Langedyk, die graadhoof van graad R by Louwtjies. Sy sê dit kan vir graad R-leerders wat nie Afrikaans as huistaal praat nie, aan die begin moeilik wees om te verstaan wat ʼn juffrou wil hê, of wat woorde beteken. Maar dit beteken nie hulle gaan vir altyd sukkel nie – op dié ouderdom is kinders soos sponsies wat nuwe woorde en begrippe opsuig en in ʼn japtrap toepas.

Die graad R-onderwysers het boonop die kundigheid om te weet hoe om nie-Afrikaanssprekende kinders makliker by die skool te laat inskakel.

“Ons help die leerder deur baie praktiese oefeninge te doen om die begrip aan te leer,” sê Langedyk. “Opdraguitvoering word vergemaklik deurdat hulle na maats kyk en sien wat hul maats doen as juffrou ʼn sekere opdrag gee. Dit is ʼn langerige proses, maar die leerders leer na ʼn ruk wat juffrou bedoel en ook later wat die woorde beteken wat hulle hoor. Op so ʼn manier, leer hulle ook die taal aan.”

Sosialisering in graad R kan ʼn uitdaging wees, maar Langedyk sê in graad R is kinders nog op ʼn ouderdom waar hulle elke maatjie aanvaar.

“Hulle speel met enige maat, ongeag die taal. Hulle neem die maatjie se hand en daar gaan hulle. Hulle ry dan fietsie of swaai sonder om al veel te praat.

“Natuurlik is praat en gesels ook ʼn groot deel van die graad Re se ontwikkeling. Afrikaanse leerders praat dikwels in Engels met die maatjie, omdat hulle die taal ken. Maar mettertyd raak die Afrikaans meer en so leer die maatjie wat nie Afrikaans is nie, al spelende Afrikaans praat.

Volgens Langedyk voel leerders dalk soms aan die begin selfbewus om in Afrikaans met maats te praat.

“Ons help hulle deur te sê dat as hulle nie Afrikaans kan praat nie, hulle maar aan die begin met ons en hul maats Engels kan prat. Ons wil nie hê hulle moet uitgesonder voel omdat hulle nie Afrikaans kan praat nie. Dit help ook gewoonlik om hulle aan die praat te kry. Sodra hulle die vrymoedigheid het om te praat, help dit gewoonlik dat hulle enkele Afrikaanse woorde kan begin gebruik. En so brei hulle taal dan ook uit

“ ʼn Klein woordjie soos ‘kom’ kan baie beteken en ʼn wêreld begin oopmaak. Nou kan hulle ʼn maatjie se hand vat en sê ‘kom!’. En daar begin hulle speel.”

Kontakbesonderhede

Besoek gerus Die Habitat aanlyn by https://llg.co.za/die-habitat/.

Kontak die terapeute by Die Habitat om ʼn afspraak te maak -

  • Suzette Lamprecht – of suzette@speeklifespeech.co.za
    of 083 391 8334
  • Erika Basson – ebasson.psychologist@gmail.com
    of 084 206 2972

Saamgestel deur: Riette van der Wat

Junie 17, 2023