Louwtjie-wenke Reeks 1
Sal my nie-Afrikaanssprekende kind by Louwtjies kan skoolgaan?
Die Laerskool Louw Geldenhuys is ʼn geliefde Afrikaanse skool in Linden. Al hoe meer ouers wat nie Afrikaans as eerste taal praat nie, kies deesdae om hul kinders hier te laat skoolgaan.
In dié reeks artikels gee ons praktiese raad oor wanneer om die oorgang na ʼn alternatiewe onderrigtaal te maak; bespreek ons ʼn paar van die uitdagings as kinders in ʼn ander taal as hul moedertaal skoolgaan; deel ʼn multidissiplinêre span kundiges wat by die skool werk hul raad en vertel ʼn onderwyser van Louwtjies hoe kinders wat tuis ʼn ander taal praat, prakties in die klaskamer gehelp word om te floreer.
#2 Een, twee, drie tale – ʼn geskenk
Meertaligheid is ʼn wonderlike geskenk wat ouers vroeg reeds vir hul kinders kan gee, sê Suzette Lamprecht van Speak Life Spraakterapie. Sy praktiseer by Habitat, die skool se multidissiplinêre welstandsentrum.
“Baie kinders in ons land word nie meer in hul moedertaal onderrig nie en alhoewel daar baie voordele is aan moedertaalonderrig, is dit in baie gevalle nie moontlik nie, of verkies ouers weens verskeie redes om hul kinders in ander tale te laat onderrig.
Dit laat ouers soms met die vraag of kinders ʼn agterstand sal hê as hulle in ʼn ander taal as hul huistaal onderrig word en of hulle hul kind dalk ʼn onreg aandoen. Lampbrecht. “Meertaligheid, wat die behoud van die moedertaal, met blootstelling aan ander tale beteken, is egter ʼn baie groot geskenk wat ouers hul kind kan gee.”
Baie voordele
Meertaligheid hou ʼn baie voordele in vir kinders, sê Lamprecht. Hier is ʼn paar:
- Die vertalingsfunksie in die kind se brein word aangeskakel.
- Konsepte tussen tale verdiep.
- Sosiale vaardighede verbeter.
- Identifikasie met ʼn kind se eie kultuur verbeter.
- Die band tussen ouers en kinders verdiep.
- Dit ontwikkel die vermoë om ander tale makliker aan te leer.
Klein mensie, groot vermoëns
Moenie jou kind se vermoë onderskat om op ʼn vroeë ouderdom taal aan te leer nie, sê Lamprecht.
Deur jou huistaal steeds tuis te praat en jou kind vroeg reeds aan ʼn ander taal bloot te stel, kan jy jou kind ʼn hupstoot gee: “Ons beveel aan dat ouers voortgaan om hul huistaal by die huis te praat, maar die kind so vroeg as moontlik aan die ander taal blootstel.”
In sommige gevalle is een ouer dalk Afrikaans en ʼn ander Engels, sê sy.
“Ons werk op die beginsel: een persoon, een taal. As pappa Afrikaans praat en mamma Engels, moet elkeen by sy taal hou sonder om van tale te wissel, sodat die kind ʼn suiwer model van elke taal kan hoor en later tussen die twee tale kan onderskei.
Sy het ook dié raad oor hoe jy jou kind gereed kan maak vir onderrig by ʼn Afrikaanse skool, as julle tuis ʼn ander taal praat:
- Stel die kind so vroeg as moontlik bloot aan die onderrigtaal.
- Praat julle huistaal by die huis.
- As daar meer as een taal by die huis is, hou by die reël van ‘een persoon, een taal’.
- Stel jou kind baie bloot aan die onderrigtaal (en huistaal) deur baie boeke en rympies te lees, liedjies te luister en deur geleenthede te skep vir spel met maats wat die onderrigtaal praat.
- Verminder skermtyd drasties.
- As julle ʼn au pair of kinderoppasser het, kan julle oorweeg dat die persoon die onderrigtaal met die kind praat, mits die persoon die taal vlot magtig is.
Groot skool, groot taalskuif
Erika Basson, ʼn opvoedkundige sielkundige met ʼn praktyk by Habitat, beaam dat nie-Afrikaanssprekende gesinne die skuif na ʼn Afrikaanse skool soos Louwtjies vroeër, eerder as later moet maak.
Sy sê leerders ontwikkel geweldig gedurende die grondslagfase en dat kinders in ʼn formele skoolomgewing leer van grense en hoe om binne ʼn formele skoolomgewing te funksioneer.
Basson sê kinders wat eers in graad 1 van ʼn Engelse-leeromgewing na ʼn Afrikaanse skoolomgewing oorskakel, of huisgesinne wat ʼn ander taal praat en verkies om hul kind na ʼn Afrikaanse skool te stuur, kan in sekere gevalle meer uitdagings ervaar as kinders wat in hul huistaal onderrig word.
“Hierdie leerders moet aanpas binne die groot nuwe skoolomgewing – iets wat vir die meeste graad eentjies ʼn groot en uitdagende skuif is. Hulle moet ook aanpas daarby om in die klas en met maats in Afrikaans te kommunikeer.”
Dit kan volgens Basson angs by leerders veroorsaak, omdat hulle dalk sukkel om instruksies te verstaan, of agter raak in die klas.
“In pousetyd, wat gewoonlik ontspan- en speeltyd is, sukkel hierdie leerders dan soms om te ontspan, omdat hulle nie altyd gesprekke op die speelgrond kan volg nie,” sê sy. “Soms is hierdie leerders skaam om met maats Afrikaans te praat, omdat hulle bang is hulle sal ʼn fout maak, of dat hulle die verkeerde uitspraak sal hê.
“Wanneer kinders se angsvlakke verhoog, sukkel hulle om optimaal te ontwikkel en te presteer.”
Basson sê dit is belangrik vir leerders om eers een taal te bemeester, voordat dat daar van hulle verwag word om in ʼn ander taal onderrig te word en instruksies uit te voer.
Bietjie vir bietjie
As ouers ʼn ander taal as hul huistaal oorweeg vir hul kind se laerskoolloopbaan, beveel kenners aan dat die kind so vroeg moontlik aan die onderrigtaal blootgestel moet word, voeg Lamprecht by.
Die rede hiervoor, is dat kinders wat in kleuterskole of selfs grondslagfase vir die eerste keer met ʼn nuwe taal gekonfronteer word, stelselmatig tweetalig sal word deur daaglikse blootstelling word aan ʼn nuwe taal in die klas en op die speelgrond.
“Dit sal egter tyd neem en die oorgang na tweetaligheid sal nie binne ʼn kwessie van twee weke gebeur nie. Hoe vroeër die kind aan die ander taal blootgestel word, hoe makliker sal die oorgangsfase na twee- of meertaligheid plaasvind,” sê Lamprecht.
ʼn Goeie opsie is om kinders reeds in die pre-primêre fase na ʼn Afrikaanse skool te stuur, soos Robindale Louwtjies, die Laerskool Louw Geldenhuys se nuwe kleuterskool.
Lees meer oor die akademiese, sosiale en emosionele uitdagings wat kinders dalk mag ondervind wanneer hulle in ʼn ander taal as hul huistaal skoolgaan en vind uit hoe om dié uitdagings die hoof te bied.
Kontakbesonderhede
Besoek gerus Die Habitat aanlyn by https://llg.co.za/die-habitat/.
Kontak die terapeute by Die Habitat om ʼn afspraak te maak -
- Suzette Lamprecht – of suzette@speeklifespeech.co.za
of 083 391 8334 - Erika Basson – ebasson.psychologist@gmail.com
of 084 206 2972
Saamgestel deur: Riette van der Wat
Mei 20, 2023
Leave A Comment